“Kyk net hier, Mamma!” Vyf perfekte agteroorsalto’s. My seun - die gimnas. Banele tuimel en vlieg oor die ruwe aanmekaargetim-merde parkour-hindernisbaan wat ons voortuin besaai. Buddy, ons gesin se Boston Terrier, hardloop in sirkels. Hy is ook deel van dié gimnawales. Die ander vyf kinders volg kort op sy hakke – jillend en gillend.
Dit is my gunsteling dag van die week – Sondag, laatmiddag –wanneer al die kinders tuis is en ons braai. ’n Texan-kruisskyf, so groot soos ’n olifant se oor, sis op die vuur. My hart wil oorloop van geluk en saligheid, híér waar ek onder die skaduwee van die olyfboom sit. Die bekende takke voel soos balsem van ’n geliefde. My oë dwaal oor ons plaas en vir ’n oomblik kom dit tot stilstand op die beeste wat lui-lui in die verte herkou. Die lang Smutsvinger-gras swaai liggies in die bries wat die hitte draagliker maak. Dié prentjiemooie plaas skep ’n gevoel van vrede – ’n gevoel wat ook diep binne my kom nesskop het.
Ek sit en mymer oor die afgelope paar dekades, oor al die wonderwerke en persoonlike groei wat in my lewe gebeur het. Van ’n Johannesburgse sakevrou en stedeling tot ’n boervrou en bestuurder van my eie plaasskool in Bronkhorstspruit. Van ’n onvrugbare vrou tot die wonderbaarlike voorreg om ma van ses genoem te word. Van ’n sondaar na ’n dienaar.
Psalm 40:3 draal deur my gedagtes. “Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op 'n rots neergesit; Hy het my gange vasgemaak.” Niks, maar niks kan in die pad van God se magtige regterhand kom nie.
Twintig jaar gelede het ek in ’n gevaarlike en ongesonde verhouding beland. Een wat nié net gedreig het om my lewe te vernietig nie, maar ook die lewens van ’n Godvresende ma en haar kinders. Jesus se spykerdeurboorde hande het my saggies weggelei – na ’n plek waar my hart en siel genees sou word. Ek het ’n plek gevind waar ek weggooi-babas, slagoffers van die deurmekaar, gebroke wêreld, kon red.
Die uitbundige geskater van my kinders ruk my terug na die hede. ’n Boog water tref Thandi vol in die gesig en sy val op die gras neer.
“Help my, Sarah,” kerm sy. Sarah kom onmiddellik met haar helder pienk watergeweer tot haar redding en val die drie seuns – wat natuurlik teen die meisies saamgespan het – verwoed aan.
Katlego hardloop so vinnig as sy vierjarige-beentjies hom kan dra na die meisies toe. “Het jy seergekry, Thandi?” vra hy terwyl hy sy armpies om haar nek gooi. Buddy besluit ook om vir Thandi te ondersteun en sy kry ’n nat tong in haar gesig.
Ek sluk swaar aan die knop in my keel. Die jare het so vinnig verbygegaan. My oudste vyf babas is nou al tieners. Ek verwonder myself aan die liefde wat dié kinders vir mekaar het en hoe hulle vir mekaar omgee, want dieselfde bloed vloei nie deur hulle are nie.
Toe Katlego deel van die gesin geword het, het die meisiekinders hulle ontferm oor hulle nuwe klein boetie en die seuns het hom op hulle skouers rond gedra.
Die kinders baklei nie onder mekaar nie, trouens, ek hoef nie een keer in bykans negentien jaar, die spreekwoordelike kole op die gevegsvure te gooi nie.